Monday, March 31, 2014

Regmatige uitsettings: Die feite

Regmatige uitsettings: Die feite
1st posted on  25 July 2013 on legal newsletters, re-posted today by J Coetzee

Behuising is noodsaaklik en `n primêre behoefte vir elke mens. Aangesien meeste van ons akkomodasie
bekom deur te huur of deur huislenings of selfs deur staatsbehuising wat deur munisipaliteite voorsien
word, is dit belangrik om te weet wat jou regte is en wat die korrekte prosedure is as dit kom by regmatige
uitsettings.
Met die uitsluiting van plaasgrond, word regmatige uitsettings van residensiële persele, geboue of strukture

daarop, wat enige hut, plakkershut, tent of soortgelyke struktuur of enige ander vorm van tydelike of 
permanente woning of beskutting insluit, deur die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en 
Onregmatige Besetting van Grond 19 van 1998, algemeen bekend as die “PIE Wet”.

Wie het die reg om uit te sit?
Die reg om uit te sit in terme van die PIE Wet word gegee aan `n geregistreerde eienaar van `n perseel
of aan `n persoon in beheer van die betrokke residensiële perseel. Persone in beheer van `n residensiële
perseel sluit in:
  • `n Regmatige huurder
  • `n Eksekuteur wat die boedel waarin die perseel val administreer
  • Enige ander agent wat volgens die regmatige instruksies van die eienaar optree
Wie kan uitgesit word?
Mense wat uitgesit kan word sluit die volgende mense wat in okkupasie van die perseel bly, in:
  • Huurders in verstek wie se huurooreenkomste getermineer is
  • Verbandgewers in verstek wie se verbande gekanselleer en die eiendom in eksekusie verkoop is
  • Onregmatige okkupeerders of plakkers
  • Enige ander persoon wat nie die uitdruklike toestemming van die eienaar of persoon in regmatige
 beheer van die perseel het nie
Wat is die spesiale oorwegings?
Wanneer ons howe met aansoeke om uitsetting te doen kry is die howe verplig om spesiale oorweging
 te skenk aan bejaardes, kinders, mense met gestremdhede en ook huishoudings onder leiding
van vroue. Alle feite en omstandighede van hierdie persone moet aan die hof uitgelig word vir die evaluasie
van die sogenoemde spesiale oorwegings.

Regmatige uitsettingsprosedure:
Stap 1 – Kennis van uitsetting
`n Kennis van uitsetting waarsku die okkupeerder van die beoogde uitsetting en voorsien gewoonlik die
okkupeerder van 30 dae om te perseel te ontruim. Dit gee ook aan die partye die geleentheid om 
skikkingsterme of terme en tydsraamwerke vir die ontruiming van die perseel te onderhandel. Hierdie
kennis kan deur die Balju van die Hof per hand by die perseel of deur middel van geregistreerde pos beteken
word.
Stap 2 – Hofaansoek om uitsetting
`n Hofaansoek by wyse van `n kennisgewing van mosie tesame met `n ondersteunende beëdigde verklaring
moet deur die Balju op die okkupeerder en die relevante munisipaliteit beteken word. Dit sal die datum
van die hofverskyning asook die datum waarop die okkupeerder opponerende hofdokumente moet liaseer
indien die okkupeerder van plan is om die aansoek om uitsetting teen te staan, aandui. Die okkupeerder
moet die hofaansoek ten minste 14 dae voor die hofdatum ontvang.
Stap 3 – Verskyning in die hof vir die aanhoor van die aansoek om uitsetting
`n Hof is verplig om alle relevante feite rakende die aansoek om uitsetting op die bepaalde datum van
die verhoor te oorweeg. Regsverteenwoordigers van die partye sal `n geleentheid gegun word om 
mondelinge en geskrewe regsargumente namens die onderskeie partye aan te voer. Die hof sal dan,
by wyse van `n hofbevel indien die aansoek suksesvol is, die okkupeerder genoegsame tyd gee om die
perseel te ontruim wat gewoonlik tot 1 maand sal wees met die bepaling dat indien die okkupeerder
versuim om in hierdie tyd te ontruim die Balju geregtig sal wees om, op die onkoste van die okkupeerder,
die okkupeerder en al sy besittings van die perseel te verwyder.
Stap 4 – Gedwonge uitsetting van die okkupeerder deur die Balju
Die Balju sal eers `n kopie van die Uitsettingsbevel op die okkupeerders beteken. Dan sal die Balju
geregtig wees om die okkupeerders met mag te verwyder indien die datum van ontruiming soos deur 
die hof bepaal, verby is. Die Balju is ook geregtig om die bystand van die polisie, indien nodig, te vekry
en mag ook die besittings van die okkupeerders verwyder asook enige opgerigte strukture sloop. Die
Balju kan tot 3 weke neem om uitvoering aan die Uitsettingsbevel te gee nadat die nodige reëlings
getref is om die okkupeerders uit te sit.

Gevolgtrekking
Regmatige uitsettings kan 2 tot 3 maande neem om af te handel en kan baie tegnies van aard en
duur word. `n Verhuurder, eienaar of persoon in beheer wat iemand wil uitsit asook `n huurder
of okkupeerder teen wie uitsettingsposedures aanhangig gemaak is word beide aangeraai om
regsadvies van `n prokureur wat in uitsettings spesialieer te bekom ten einde te verseker dat die 
uitsettingsproses regmatig en korrek uitgevoer word. Deur die regte uitsettingsprosedure te volg
word frustrasie, kostes en verdere potensiële verliese geminimaliseer en vermy dit die behoefte
aan optrede soos om slotte te verander, water en ligte te ontkoppel of selfs intimiderende optrede
van, wat opsigself regsaksie tot gevolg kan hê.

No comments:

Post a Comment