Wednesday, June 4, 2014

Die toekoms van eiendomsreg in Suid-Afrika is in gedrang

Foto: Maretha Maartens
Dit was die mening van verskeie kenners wat vandag aan die AfriSake Eiendomsregkonferensie deelgeneem het. AfriSake het tydens die konferensie ‘n verslag bekendgestel wat 14 verskillende wetsontwerpe, beleide en regsprake uitwys wat ten doel het om eiendomsreg drasties in te perk, af te takel of selfs te vernietig.
Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, toon die verslag dat die ANC-regering beplan om hul onteieningsbeloftes gestand te doen. Die verslag wys daarop dat die regering se herverdelingsbeleid nie slegs op landbougrond gemik is nie maar alle eiendom in die staat se visier plaas. “Hierdie wette is juis so geformuleer dat dit ‘n regsraamwerk skep wat uiteindelik op alle soort eiendom van toepassing gemaak kan word,” het Jansen van Rensburg gesê.
Die strategie is om eiendomsreg stelselmatig af te takel: Die staat beperk eers eiendomsreg deur fyn beplande wetgewing, en neem dan de facto-beheer oor eiendom wanneer dit te laat is om iets daaraan te doen.
Kenners wat aan die konferensie deelgeneem het, sluit in die Russiese ekonoom prof. Yuri Maltsev, ekonoom Dawie Roodt, dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge, die uitvoerende hoof van die vryemarkstigting, Leon Louw, regskenner Willie Spies, en Piet le Roux van die Solidariteit Navorsingsinstituut. Alle deelnemers het die inhoud van die verslag onderskryf en was van mening dat daar ernstige rede tot kommer bestaan oor die toekoms van eiendomsreg in Suid-Afrika.
Ten einde die dreigende eiendomsregkrisis af te weer, het AfriSake ‘n vyfpuntplan bekend gestel. Dit sluit kortliks die volgende stappe in:
1. Legitieme en ordelike grondherstel vir individue wat hul eiendomsreg in die verlede verloor het, moet plaasvind, maar op so ‘n wyse dat bestaande eienaars nie hul regte verloor nie.
2. Herverdeling as regeringsdenkraamwerk moet bevraagteken word. Herverdeling word toenemend in verband gebring met ANC-nepotisme, swak dienslewering en korrupsie.
3. Regsaksies moet van stapel gestuur word om die regsbeginsels van eiendomsreg te beskerm.
4. Verskansing van persoonlike bates teen moontlike staatsvergrype moet plaasvind.
5. Politieke en ekonomiese druk moet op Internasionale vlak uitgeoefen word.
“Eiendomsreg is die hoeksteen van ‘n gesonde en groeiende ekonomie. Daarsonder kan Suid-Afrika se mense nie uit die moeras van armoede en werkloosheid gelig word nie”, het Jansen van Rensburg gesê.
Uiteindelik sal eiendomsreg nie deur die politici alleenlik beslis word nie, maar deur landsburgers. Aktiewe en georganiseerde burgerlike instellings het ‘n belangrike rol om te speel deur gemeenskappe te mobiliseer ten behoewe van eiendomsreg, het Jansen van Rensburg gesê

Gepubliseer in Suid-Afrika | Sleutelwoorde